Gedig - Die huis luister Flashcards
Verduidelik wie die spreker en die aangesprokene is.
‘n Huis is aan die woord en praat met die bewoners daarvan.
Bespreek hoe die beeldspraak in die titel in die gedig self voortgesit word.
Die personifikasie van die huis wat ‘luister’ in die titel, raak duidelik wanneer die huis in strofe 1 me ‘n ‘binne-oor’ vergelyk word en beskryf hoe hy ‘hoor’ hoe die bewoners stry en baklei. Die uitgebreide metafoor word in strofe 2 voortgesit wanneer die huis die mense aanspreek met ‘luister’, en verduidelik hoe hulle konflik hom struktureel vernietig. Die personifikasie en metafoor in ‘elke nag se oorskulp’ in die slotversreël rond die uitgebreide metafoor en die gedig netjies af.
Bespreek twee redes waarom ‘roesemoes’ (strofe 1) ‘n doeltreffende woordkeuse is.
- Dit sluit aan by die chaotiese en negatiewe interaksie tussen die mense.
- Die woorddeel ‘roes’ in ‘roesemoes’ sluit aan by die huis se vensterrame wat a.g.v. die mense se trane ‘roes’ (strofe 2), dit wil sê die negatiewe uitwerking wat die mense se geroesemoes op hulle omgewing het.
Verduidelik die betekenis van ‘skoor/soek met die goor hede’ (strofe 1)
Om ‘skoor te soek’ beteken om moeilikheid te soek, en ‘goor hede’ beteken onaangename hede/lewe.
Die suggestie is dus dat die mense se onaangename omstandighede tot die konflik tussen hulle bydra, en andersom. Hulle is dus vasgevang in ‘n bose kringloop.
Lewer kommentaar op die eerste woord in strofe 2.
Die woord ‘luister’ maak dit duidelik dat die huis die spreker is wat die huisbewoners aanspreek. Die huis vra dat die mense moet doen wat hulle nie met mekaar doen nie - hulle luister juis nie na mekaar nie.
Wat is die funksie van die herhaling van die lang aa-klanke in strofe 2?
Die herhaling van die lang aa-klanke in die ‘bewaar… kraak… raak’ beklemtoon die woorde en dien as binding. In ‘jare se trane laat my rame roes’ verbind dit die woorde klankmatig en dra dit by tot ‘n vloeiende ritme.
Evalueer die effek van die woord “eggo’s” (strofe 2)
Dit beklemtoon die hoeveelheid konflik tussen die mense en die uitwerking daarvan - die gevolge kring veel wyer uit as net hulle onmiddellike bestaan.
Bespreek die funksie van die v-alliterasie in reël 9.
Die v-alliteraisie in ‘te veel vloeke’ beklemtoon die woorde en verbind dit klankmatig
Bespreek die betekenis van die eerste reël van strofe 3
Die konflik tussen die huisbewoners het uiteindelik ‘n destruktiewe invloed op hulle en op hul omstandighede en omgewing - alles verweer saam.
Verduidelik hoe ‘my dakplate en julle gebede’ (strofe 3) by die werkwoorde in die volgende versreël aansluit.
Die woorde ‘my dakplate en julle gebede’ word gevolg deur die werkwoorde ‘fluister en knal’, wat suggereer dat die dakplate fluister (personifikasie) en die gebede knal (metafoor), wat die beskrywing al hoe treffender maak.
By watter woorde vroeër in die gedig sluit ‘oorskulp’ in die slotversreël aan?
‘binne-oor’, ‘hoor’, ‘luister’
Bespreek die beeldspraak in die slotversreël.
Die personifikasie in ‘elke nag se oorskulp’ gee aan die nag die eienskap om te kan hoor en dui aan dat die nag die tyd is wanneer die gebede en hulproepe gehoor word.
Die metafoor in ‘oorskulp’ dui op die skulpvorm van die buitenste deel van die oor. Hierdie metafoor sluit aan by ‘luister’ in die titel en ‘binne-oor’ in reël 1 en rond die uitgebreide metafoor netjies af.