Seep en skoonmaakmiddels Flashcards
Watter stowwe sal normaalweg in water oplos?
Die meeste ioniese soute sal in water oplos
Verduidelik wat jy verstaan onder die term OPPERVLAKSPANNING in water
Watermolekules is polêr en het sterk aantrekkingskragte tussen die molekules. Omdat die buitenste molekules mekaar sterk aantrek, vorm druppels. Die oppervlakspanning is so sterk dat dit sekere oppervlaktes nie kan benat nie en dus ook nie vetterigheid kan oplos nie. Vetterigheid is nie-polêr en sal nie in water oplos nie.
Waarom sal water, al is dit warm water, nie ‘n mens se lyf, skottelgoed of wasgoed skoon was nie?
Selfs al is water warm, sal dit nog steeds nie die vuil wasgoed of liggaam kan benat nie. As seep of reinigingsmiddels by water gevoeg word, versprei dit oor die wateroppervlakte en verlaag die oppervlakte-spanning van die water. Die water sal dan die vetterige klere/liggaam kan benat, die vetterigheid van die voorwerp skei en in die water suspendeer sodat dit weggewas kan word.
Wat beteken die terme ‘saponifikasie’ en ‘surfaktante’ vir jou?
Wanneer ‘n alkali met vette en olies verbind om seep te vorm, word dit saponifikasie genoem.
Surfaktante (oppervlakreagense) tree op as benattingsmiddels en verminder die oppervlakspanning van water.
Die molekules in seep sowel as wasmiddels het ‘n hidrofobiese stert en ‘n hidrofiliese kop. Wat is die funksies van hierdie kop en die stert?
Die hidrofiliese kop van seep of reinigers is lief vir water en is ionies, dus kan dit in water oplos. Die hidrofobiese stert stoot water af en heg aan die vetterigheid om dit uit die kledingstuk te trek of van die voorwerp los te maak. Die vet vorm dan ‘n emulsie (suspensie) in die water.
In watter opsigte verskil seep en detergente (reinigingsmiddels?)
Seep bestaan uit soute van vetsure wat verkry word uit die saponifikasie van natuurlike vette en olies. Seep is nie skadelik vir ‘n mens se vel nie. Seep sal egter in harde water ‘n neerslag vorm terwyl detergente dit nie sal doen nie. Detergente word uit sure gesintetiseer en is effektief om vesels en oppervlaktes te reinig. Tans is baie van die detergente bioafbreekbaar dus sal bakterieë in water die vertakte koolstofkettings afbreek. Sepe en reinigers vorm ‘n emulsie saam met vette, olies en organiese verbindings op liggame, klere en vuil apparate en word dan saam met die water weggespoel.
Onder watter omstandighede sal seep nie effektief werk nie? Motiveer jou antwoorde.
Seep sal met die kalsium-, magnesium en yster(III)-ione in HARDE WATER reageer om ‘n onoplosbare skifsel te vorm wat agterbly op die klere. Seep sal ook met water waarin suur is, ‘n onoplosbare neerslag vorm.
Watter rol speel seep in besoedeling in riviere en damme?
Seep veroorsaak skuim op water. Sonlig kan dan nie in die water skyn nie. Daar kan nie gaswisseling tussen die atmosfeer en die water plaasvind nie. Die biologiese aktiwiteit verlaag dus in riviere en rioolwerke.
Waarom het die eerste seeplose reinigers die omgewing besoedel?
Aanvanklik was reinigers nie bioafbreekbaar nie en kon hulle nie deur bakterieë afgebreek word na eenvoudiger en meer oplosbare stowwe nie. Reinigers was ook eers nie oplosbaar in koue water nie en het onoplosbare neerslae met koue water gevorm.
Wat verstaan jy onder bioafbreekbare reinigers?
Bioafbreekbare reinigers kan deur die bakterieë in water afgebreek word na eenvoudige stowwe wat nie die omgewing sal besoedel nie.
Waarom is dit onekonomies om wasgoed in hardewater te was met gewone seep?
As seep met die Mg2+, Ca2+, en Fe3+ ione in kontak kom, vorm dit ‘n onoplosbare stof wat op die water dryf. Dit beteken dat dit nie in staat is om die oppervlakspanning in water te breek sodat die vet en vuilgoed uit klere kan uitwas nie.
Fosfate wat by reinigers gevoeg word om hardewater sag te maak, is nie omgewingsvriendelik nie. Fosfate wat in water oplos is een van die oorsake van eutrofikasie. Watter effek het EUTROFIKASIE op die omgewing?
Eutrofikasie: Nywerhede gebruik detergente om masjiene en toerusting skoon te maak en pomp dan die afvalwater in riviere. Die fosfaat in sommige reinigers is ‘n voedingstof vir alge en versnel die alge se groei. Alge dryf dan op die water sodat die son dan nie die water kan binnedring nie en dus gaan plante onder die water dood. A.g.v. die ontbinding van die dooie plante verminder die suurstof in die water en vrek visse en ander lewende organismes in die water.
Die dept. van Waterwese en Bosbou het tans ‘n veldtog wat ook op sepe geadverteer word: ‘Wash your hands to keep clean and healthy’. Waarom is dit belangrik dat jy altyd jou hande met water EN SEEP moet was nadat jy by die toilet was?
As jy jou hande slegs met warm water was, sal net die ioniese soute van jou hande weggespoel word. As jy seep byvoeg, word die oppervlakspanning in die water verbreek sodat dit in staat is om ook vette, olies, bakterieë en virusse van die vel los te maak. Die seepmolekules bind aan die stowwe en help om dit saam met die water weg te spoel.
In watter opsigte kom die molekules van die aktiewe bestandeel in seep en die in detergente ooreen en in watter opsig verskil hulle?
Albei het ‘n nie-polêre alkielstert en ‘n polêre kop.
By die seepmolekule het die alkielgroep (CnH2n+1) 17 koolstowwe terwyl dit by die reiniger slegs 12 koolstowwe het.
Druppels olie of vuilgoed gaan in suspensie in seepwater om ‘n emulsie te vorm. Wat beteken emulsie?
‘n Emulsie is ‘n mengsel van twee onmengbare vloeistowwe waar klein druppeltjies (vet/olie) van die een vloeistof verstrooi word in die ander vloeistof (seep-oplossing)